GEMEENTEPRIORITEITE

Waarop fokus ons in 2021?

Ons Gemeente is in 2021 mense wat vashou aan die vaste hoop; ons bou op vaste fondamente. Om ’n lidmaat van Moedergemeente / Kruiskerk in 2021 te wees beteken om ’n sinsoeker te wees in ’n verwarde wêreld…

  • Ons kan nie oor 2021 gesels sonder om te dink aan die ontwrigtende, deurmekaar en verwarrende 2020 nie.
  • Orals hoor mens die vraag: “Hoe maak mens sin van al die gebeure?”
  • As die enigste konstante verandering is, waar gaan soek mens sin? Ons vind die antwoord op dié vrae in die Here wat ons uitnooi om op die maat van sy ritme te leef. Elke dag word ons oorweldig met verskeie ritmes wat ons uitnooi om daarop te dans. Die enigste sekerheid in verwarde tye is egter die ritme van God. Dit is die vaste fondamente waarop ons geloof en die kerk gebou is.

Daarom gaan ons vashou aan die kerklike jaar se ritme wat ons fokus op die enigste konstante sekerheid: Jesus Christus die Here. (Sien Kerkjaar Kalender hier bo) Ons nooi almal uit om te kom sin vind in die ritme van God se bladmusiek (sy Woord), onder die begeleiding van sy dirigent (die Heilige Gees). Ons soek in 2021 sin in die vaste fondamente waarop God sy kerk in ’n verwarde wêreld kom vestig het.